Wanneer boei stories?

Wanneer boei stories?
Wanneer boei stories?
Wanneer boei stories?

Wanneer boei stories?

Daar is geen vaste stel reëls wat stories aanbetref nie. Skryfwerk verander soos mense verander. Tog bly daar sekere dinge wat ’n storie laat asemhaal, wat dit aan ’n leser se vel laat vasklou, veral wanneer jy fiksie skryf waar karakters bots, waar die wêreld skerp rande het en keuses swaar weeg.

Ek het dit oor tyd geleer: ’n storie werk nie slegs omdat iets gebeur nie. Dit werk omdat iemand saam met die karakters voel.

Wanneer boei stories?

  1. ’n Stem wat eg klink

Die “stem” waarna ek verwys, is nie slegs woorde nie. Dit is hoe ’n karakter dink wanneer niemand luister nie, asook die manier waarop hulle praat, stilbly, lieg. Ook is dit die ritme van hul asem wanneer iets skeefloop.

Vir jong volwasse verhale dra stem die grootste gewig. Lesers wil nie lees oor ’n karakter wat soos ’n volwassene klink wat jonk probeer wees nie. Hulle wil hulself hoor. Die onsekerheid wat deel is van jonk wees. Ook belangrik is die harde bravade wat krake wys en die half-gevormde waarheid wat nog nie mooi weet waar dit hoort nie.

Dink aan hoe ’n karakter se binnestem teen hul eie keuses skuur. In Suiker vir ’n bleeksiel (Annerle Barnard, kliek hier om die gratis kortverhaal te lees) sit ’n meisie in ’n klas, haar skoolrok klam teen haar rug, en haar gedagtes sny skerper as enige onderwyser se woorde. Dit is waar haar stem lewe kry. Naby. Intiem. Onverskrokke eerlik.

Wanneer boei stories?

  1. Tropes

Elke genre het patrone, byvoorbeeld vyande wat verlief raak, mense wat vasgevang is in dieselfde ruimte of die erfgenaam wat nie weet wat sy/haar herkoms is nie.

Lesers kom terug na hierdie patrone/tropes omdat dit iets bekend bied. Iets veilig. Tog soek hulle ook iets nuut, ’n nuwe kinkel of ’n ander waarheid.

Die geheim lê nie daarin om tropes te vermy nie. Dit lê daarin om dit te verstaan. Om te weet hoekom dit werk. Dan buig jy dit en verdraai dit effens. Jy gee dit ’n ander uitkoms as wat verwag word.

In Romeo and Juliet is die idee van verbode liefde oud, maar die intensiteit en die tragiese keuses gee dit ’n rou rand wat bly hang lank nadat die toneelstuk verby is.

Wanneer boei stories

  1. Tempo en spanning

’n Storie beweeg soos ’n hartklop. Soms vinnig. Dan stadig. As alles net hardloop, raak die leser moeg. Wanneer alles stilstaan, verloor hulle belangstelling.

Spanning bou nie slegs tydens gevegte of gevaar nie. Dit lê ook in wat nie gesê word nie. In die oomblik waar twee mense teenoor mekaar sit en een hou iets terug en in die blik wat te lank op een persoon fokus.

Die krag lê in die wisselwerking. Druk jou karakters in ’n hoek in. Laat iets gebeur wat hul wêreld laat kantel. Dan trek jy terug en gee hulle ruimte om te voel wat dit beteken. Hierdie skuif tussen aksie en stilte skep daardie draai in die maag.

In verhale soos The Hunger Games sien ‘n mens hoe oorlewing en emosie mekaar aanjaag. Die arena dwing beweging af, maar dit is Katniss se keuses en haar stil oomblikke wat die spanning laat bly hang.

Wanneer boei stories?

  1. Wat wil jou karakter(s) hê?

’n Karakter sonder begeerte is leeg. Hulle moet iets wil hê wat saak maak. Iets wat hulle nie kan los nie. En daar moet iets wees wat in die pad staan.

Nog belangriker: hulle moet gebreek wees op plekke, net genoeg om foute te maak wat alles kompliseer.

Dink aan Katniss Everdeen in The Hunger Games. Sy wil oorleef, maar terselfdertyd wil sy beskerm. Tog dra sy skuld en woede wat haar keuses skeef trek. Dit maak haar werklik en maak dat elke besluit gewig dra.

In Sweepslag en Sindikaat, wil Paul Rudman oorleef. Spel: Lukas Brandt wil sy broer vind en hy probeer oorleef. Dan is daar Gif. Joe Schutte wil sy vriende help en sy plek in die rugbyspan terughê en in Donkerster probeer Carli Kirstein die leeus teen stropers beskerm. 

Wanneer ’n karakter moet kies tussen twee slegte opsies, begin die storie praat. As hulle iets opoffer wat hulle nie wou nie, begin die leser voel dat die reis iets kos.

Wanneer boei stories?

  1. Jou naam as belofte

Wanneer ’n leser jou boek optel, kies hulle nie slegs ’n storie nie. Hulle kies jou, jou manier van kyk en jou manier van voel.

Dit is waar jou skrywershandtekening inkom. Of jy onder jou eie naam skryf of nie, die toon en die wêreld wat jy bou moet herkenbaar bly. As jy donker, emosie-gedrewe verhale skryf, gaan lesers weer daarna soek. Hulle soek daardie gevoel wat hulle al voorheen ervaar het.

Konsekwentheid bou vertroue. En vertroue bou lesers wat terugkeer.

Wanneer boei stories?

Lekker skryf aan ‘n boeiende storie!

Wanneer boei stories?
Annerle Barnard
Wanneer boei stories?