Stories wat asemhaal

Stories wat asemhaal
Stories wat asemhaal
Donkerster

Bou stories wat asemhaal: Wys, moenie vertel nie

“Show, don’t tell” het ek tydens ‘n slypskool gehoor, maar nie regtig geweet wat dit beteken nie. Dit is die een aspek van skryf waarmee menige skrywer kleitrap.

In kort: dink aan hoe jy voel wanneer jy byvoorbeeld koud kry. Jy mag nie vir my sê dis koud nie. Wat maak jy? Draai jy ‘n serp om jou nek? Stamp jy jou voete? Knoop jy jou baadjie stywer vas of trek jy die ritssluiter hoër op? Loop jou neus?

Stories wat asemhaal

Hoekom wil ons wys in plaas van vertel? Vele redes. Lees gerus wat Stephen King daaroor sê. 

‘Wys, moenie vertel nie’ is ’n tegniek wat outeurs gebruik om meer drama aan ’n roman te gee. In plaas daarvan om vir lesers te vertel wat gebeur, gebruik outeurs hierdie tegniek om die drama voor die leser se oë te laat ontvou.

Vir aspirant skrywers klink ‘wys, moenie vertel nie’ dikwels soos ’n vae opdrag: Moenie sê wat gebeur nie — wys dit. Maar hóé wys ’n mens sonder om te oorskryf? Hóé skep jy tonele wat voel soos asem, nie soos verslaggewing nie?

1. Wys is ervaring, nie inligting

Vertel (m.a.w. jy vertel vir die leser hoe Maja gevoel het):

“Maja was angstig.”

Wys eerder:

“Maja se duim het teen haar foonskerm geklop, ’n tik-tik-tik, asof sy ’n boodskap wou stuur wat sy nie kon formuleer nie.”

Die leser voel Maja se onrus sonder dat die skrywer dit benoem.

2. Wys beteken nie oordadigheid nie

Kies een detail wat die hele emosie dra.

Vertel:

“Josef is kwaad.”

Wys:

“Hy skeur die rits van sy rugsak oop. Die tande kerm.”

Geen metafore, geen drama — verskaf slegs ’n handeling wat die emosie dra.

3. Wys deur aksie, dialoog en reaksie

Aksie

“Lina het haar skoolhemp reggetrek, twee keer, asof sy die dag kon gladstryk.”

Hier wys die handeling haar spanning en haar behoefte aan beheer.

Dialoog

Maak jou dialoog subtiel, vol onderstroom:

“Dis fine,” sê André. Maar hy kyk nie op nie; sy voet tik ’n ritme wat niks met die musiek in die kafeteria te doen het nie.

Die spanning lê in die hoe, nie die wat nie.

Reaksie

Karakters reageer dikwels op klein stimuli:

“Die deur klap. Suzanne skrik nie — trek net haar skouers stywer, asof sy die klank in haar lyf wou bêre.”

Reaksie word karakter.

4. Wys deur omgewing en atmosfeer

Gebruik omgewing as emosionele klankbordVertel:

“Die dorp is verlate.”

Wys:

“Die wind laat die ou advertensiebord klap, ’n hout‑klap wat deur die leë straat rol; ’n herinnering wat niemand wou hê nie.”

Of:

“Die WiFi‑sein flikker, ’n klein groen hartklop in ’n doodstil vertrek.”

Omgewing word emosie.

5. Wys deur spesifieke detail

Gebruik presiese voorwerpe wat karakter onthul.

Vertel:

“Marie is nostalgies.”

Wys:

“Marie vou die kaartjie oop en glimlag — nie oor die fliek nie, maar oor wie langs haar gesit het.”

Die detail dra die geheue.

Kyk na bl. 124 in Donkerster. Wat kom jy oor die karakters te wete?

Eet Sam min, of baie?

Beplan Hilda enigsins om haar beenhare te skeer?

Met watter siekte stoei Hilda?

Is Sam bekommerd oor sy oë?

Is Hilda konvensioneel?

Al bogenoemde besonderhede help om te karakteriseer. Ek het hier probeer wys in plaas van vertel juis omdat ek ‘n ervaring wou skep en die storie wou laat leef.

Kyk na bl. 196 in Spel.

Is die omgewing welaf? Is Razz gesond?

Bl. 135 in Spel.

Hou Lukas daarvan as Jolene agter sy rug inkruip of laat dit hom ongemaklik voel? Waarom spesifiek ‘heuninggevoel’? 

6. Wanneer mag jy vertel?

Gebruik vertel vir tempo:

“Die res van die dag het in ’n waas verbygegaan — klas, pouses, sport, die gewone geraas.”

Dit is funksioneel. Dit hou die storie aan die beweeg.

Wys is vir emosie; vertel is vir struktuur.

7. Stories wat asemhaal

“Johann is bang.”

Daar is drie moontlike style:

  1. a) Liggaamlik

“Johann se asem is kort en skerp, ’n foutiewe stemnota wat nie wil opneem nie.”

  1. b) Omgewing

“Die gangligte flikker; elke flits ’n waarskuwing.”

  1. c) Aksie

“Hy laat die sleutel val voor dit uiteindelik die slot tref.”

8. Wys is ’n manier van kyk

Dink aan hoe jy dinge doen: die manier waarop jy jou mou oprol, hoe ’n hond se ore kantel, hoe ’n rivier se oppervlak ’n gemoedstoestand weerspieël. Dit is presies wat wys beteken: om die wêreld so akkuraat waar te neem dat die leser dit saam met jou kan voel.Moenie vir jou leser voorsê hoe hy of sy dit moet interpresteer nie. Laat hy of sy dit self interpreteer. 

Stories haal asem, lééf omdat jy wys

“Skryf, moenie vertel nie” is nie ’n reël nie — dit is ’n uitnodiging om die leser deel te maak van die toneel. Wanneer jy wys, word jou storie nie net gelees nie — dit word ervaar.

Stories wat asemhaal

Jy kán hierdie onder die knie kry! Lekker skryf.

Stories wat asemhaal
Stories wat asemhaal
Annerle Barnard