Skrywer: skryf jou sinopsis!

Skrywer: skryf jou sinopsis!
Skrywer: skryf jou sinopsis!
Skrywer: skryf jou sinopsis!

Skrywer: skryf jou sinopsis!

Ek is redelik gelukkig in die sin dat ek die oorgrote meerderheid van my manuskripte vir kompetisies ingeskryf het en daarom nie regtig nodig gehad het om baie tyd aan ‘n sinopsis (opsomming of samevatting) te bestee nie. Ter wille van hierdie blogplasing moes ek ook dus navorsing gaan doen het. In die proses het ek geleer, dus gaan ‘n volgende sinopsis hopelik beter as die eerste een wees.

‘n Sinopsis is iets wat jy saam met die eerste drie hoofstukke van jou manuskrip aan jou uitgewer stuur. Dit vorm deel van jou voorlegging en bestaan uit ongeveer 500 – 800 woorde. Die sinopsis bevat inligting rakende die plot. Dit is egter nie bemarking of ‘n verkoopsmiddel nie. Wat wel belangrik is, is dat elke karakter en plotkinkel, asook die ontwikkeling van die protagonis in die sinopsis bespreek word.

Spoilers en die einde – ja of nee?

Ek weet van skrywers wat voel dat elke aspek van die plot deel van die opsomming of sinopsis moet wees. Ook alle spoilers. Dit is immers ‘n opsomming van die storie.

Ek weet egter ook van skrywers wat voel dat hulle nie die einde in die sinopsis wil weggee nie, want dan is die storie vervelig.

 

Wat sê die uitgewers?

 

Ek het ‘n uitgewer se opinie gevra. Dit is immers hulle opinie wat tel. Die uitgewer is van mening dat hulle wil weet waaroor die storie handel. Hulle wil die storie kan plaas. Dus wil hulle weet van alle plotkinkels sowel as die einde. Die eerste drie hoofstukke wat hulle saam met die sinopsis (as deel van die voorlegging) ontvang, dien om te kyk hoe die skrywer skryf.

Skrywer: skryf jou sinopsis!

Is daar ‘n verskil tussen ‘n sinopsis en die lokteks op die agterblad? Baie beslis, ja.

Die sinopsis is ‘n samevatting van die storie. (Sodat die uitgewer weet of dit die moeite werd gaan wees om jou storie verder te ondersoek of nie.)

Die lokteks daarenteen moet die leser lok om die boek te wil lees. Dit gee nooit die einde of enige “spoilers” nie. Dis bloot ‘n “teaser”.

Skrywer: skryf jou sinopsis!

Die goeie nuus is as jy ‘n hele roman kan skryf, kan jy ‘n sinopsis ook skryf. Ek weet dis aaklig. Ek hou ook nie daarvan nie, want in alle eerlikheid is dit redelik vervelig om ‘n sinopsis te skryf. Tog is dit die moeite werd.

Watter inligting moet die sinopsis bevat?

  • Verskaf duidelike inligting oor jou plot of storielyn – dit moet ook aandui hoe die karakters in die storie ontwikkel.
  • Sê wie jou hoofkarakters is en verwys na enige groot karakterontwikkeling.
  • Waarmee haak jy die leser (book hook)?
  • As jy ‘n minuut in ‘n hysbak gehad het om iemand te vertel waaroor jou boek handel, wat sou jy gesê het?
  • Waarom sal mense die storie wil lees en hoe neem die plot se momentum toe?
  • Deel die einde (uiteraard moet dit ‘n einde wees waarmee die lesers tevrede gaan wees).

Indien jou sinopsis aan bostaande voldoen en die meegaande brief en eerste drie hoofstukke van jou manuskrip op standaard is, behoort die uitgewer vir die volledige manuskrip te vra.

Skrywer: skryf jou sinopsis!

  • Lengte: 500 – 800 woorde
  • Taal: professioneel. Neutraal. Verskaf inligting. Hier mag jy vertel. Jy hoef nie te wys nie. Hierdie is ‘n voorlegging (besigheidsdokument).
  • Voorlegging: Spasiëring van 1,5 of 2. Gebruik normale lettertipe en grootte. Ook die normale kantlyne. Maak seker dat jy geen spel- of tikfoute in jou dokument maak nie.
  • Karaktername: dit help wanneer ‘n mens die karaktername in vet druk plaas wanneer hulle die eerste keer voorgestel word. Dit maak dit bloot makliker vir die persoon wat jou voorlegging ontvang.
  • Karakterbeskrywings: Dit help wanneer jy kortliks inligting oor ‘n karakter verskaf: Peter Smith (42) – Britse agent, onverskrokke, kalm, fiks.
  • Dit is aanvaarbaar om getalle as syfers te skryf. 42 is immers korter as “twee-en-veertig jaar oud”.
  • Derdepersoon: Selfs indien jou storie in die eerstepersoon vertel word, skryf die sinopsis in die derdepersoon.
  • Indien jy na ‘n voorbeeld wil kyk (Engels), kliek hier!

Laaste wenk

Moenie jou sinopsis bloot as sinopsis stoor nie. Jou uitgewer het te veel leêrs waardeur hy of sy sal moet soek. Stoor dit onder die titel: m.a.w. Gif.sinopsis.docx of Spel.sinopsis.docx.

Jou werk is nie om die storie te verkoop nie. Jy moet slegs weergee wat in die storie gebeur.

Plak jou boude op jou stoel, skrywer. Skryf jou synopsis!

Annerle Barnard
Skrywer: skryf jou sinopsis!
Skryf jou outeursbiografie