Ek het een nag gedroom dat die mensdom met robotte in ‘n spel verwikkeld was. In my droom het die robotte die mensdom afgemaai. Die milieu was Bloemfontein. Wanneer motors reguit in ‘n straat af gery het, het die robotte hulle uitgelos. Sodra hulle iewers afgedraai het, het die robotte hulle geblaas. Bande het op die teer geskree, metaal het geskeur, mense het gegil. Dit was chaos. En toe word ek wakker.
Met die wakker-word-slag het ek onmiddellik geweet dat ek ‘n storie daaroor moet skryf, maar kom ons wees eerlik. Dis effe dun vir ‘n roman. Ek bedoel, ek het my hele droom pas in drie reëls vir jou vertel.
Die protagonis in Spel, Lukas, het sommer net kom aanklop. Ek het onmiddellik geweet hoe hy gaan lyk, hoe oud hy gaan wees en watter tipe persoonlikheid hy sou hê. Dis egter nie genoeg inligting vir ‘n boeiende roman nie.
Die skryf van Spel was eintlik ‘n proses (net soos met my vorige twee boeke vir tieners). Ek het heel eerste by IT-kenners gaan aanklop om te verstaan wat die verskil tussen kuborge en transterrane is. Onwetend het my fantastiese stiefdogter gedurende hierdie periode vir my inligting aangestuur rakende virtuele troues, virtuele bruide, ens. Ek het navorsing oor kuborge, transterrane, genetiese manipulasie, ens. begin doen.
Ek en my man het in die verlede na ‘n aantal video’s oor sintropiese boerdery gekyk. Dit stem min of meer ooreen met dit wat ek van ‘n regeneratiewe boerdery weet. Die sintropiese boerderymetodes behels onder andere organiese boerderypraktyke tesame met die herstel van die grond en omgewing.
Ek en my man besef ook die waarde van inseklewe, veral die onskatbare waarde van bye en liewenheersbesies. Een aand het ons met vriende sit en gesels toe die gesprek in die rigting van bye en die natuur beweeg het. So het bye my storie betree en ‘n leitmotif in Spel geword.
Omdat ons kontak het met Zimbabwiërs wat destyds moes oorleef terwyl die winkelrakke in Zimbabwe leeg was, weet ons dat die enigste mense wat min of meer kon aangaan, diegene was wat heeltemal onafhanklik van die stelsel was: diegene met eie boorgate en sonkrag, eie groente, vrugte en vee, ens.
In die verlede het ek heelwat oor die destydse Weimar Republiek opgelees, hoofsaaklik omdat ek ‘n Franz Kafka aanhanger is en hy gedurende daardie tyd geleef het. Ek het oor wêreldoorloë begin dink en navorsing gaan doen oor die grootste oorsake van oorloë in die geskiedenis. Daarmee saam kom toe natuurlik diktators ter sprake en daarom is daar ook ‘n diktator in Spel teenwoordig.
In ‘n stadium het ek begin wonder waar mense tydens sulke vreeslike periodes van puin en pyn medisyne kry — en gekry het. Spesifiek chroniese medikasie, byvoorbeeld medisyne vir asma, ADHD, diabetes, hartkwale, ens. Eintlik enige medisyne en mediese hulp. Die protagonis in my wetenskapsfiksie jeugroman, Spel, stoei gevolglik met ‘n mediese probleem.
Hoe oorleef kinders wat hulle ouers tydens oorlog verloor het? Wie sorg vir hulle?
Soms bring omstandighede mense nader aan mekaar. In jou diepste uur van nood is daar dikwels iemand wat jou help om staande te bly.
‘n Mens hoor soms van mense wat mekaar tydens oorlog (of die onrus van ‘n fin de siècle) gevind het. Vind Lukas liefde in Spel?
Hierdie was om verskeie redes die heel moeilikste boek wat ek nog geskryf het. Dit was omtrent klippe kou en party is heel afgesluk. Ek wou in ‘n stadium tou opgooi, want ek kon om die dood nie ‘n futuristiese (maar realistiese) wapen ‘ontwerp’ nie. In wanhoop bel ek destyds tydens die skryfproses ‘n kenner en hy gee my ‘n idee, waarna ek toe ‘n kundige skakel wat my met die fyner besonderhede gehelp het. Die heel moeilikste vir my tydens die skryfproses was onder andere:
In alle erns: ek was op die punt om van Spel te vergeet (en aan iets anders te begin werk) toe ek besluit om ‘n kenner te bel om te hoor of hy my kon help en so wrintie het hy my ‘n idee gegee, wat my nuwe moed laat skep het … en voilà.
Waar jy Spel asook Sweepslag en Sindikaat kan koop? Kliek hier.
Wil jy graag na die uitmuntende Phyllis Green se bespreking van Sweepslag en Sindikaat luister? Kliek hier.