5 Dinge wat voornemende skrywers moet weet.
5 Dinge wat ek wens ék geweet het voordat ek begin skryf het …
1.Eerste weergawes is sleg.
“The first draft of anything is shit.” — Ernest Hemingway
Een van die eerste van 5 dinge wat voornemende skrywers moet weet, is dat dit nie noodwendig ‘n slegte ding is om te dink dat jou skryfwerk sleg is nie. Hoekom? Wanneer jy iets skryf en dit ‘n week later weer lees en dink dat dit gemors is, beteken dit dat jy in daardie week iets geleer het — en verbeter het. Dis ‘n prestasie. Ek dink buitendien nie enigiemand kan ooit sê hulle het ‘arriveer’ en is volleerd nie. Onthou net, ‘n mens kan 1000 woorde se gemors redigeer, maar ‘n leë bladsy is en bly leeg.
“The first draft is just you telling yourself the story.” ―Terry Pratchett
‘n Mens het nooit alle kennis in pag nie. Ek leer nog heel my lewe lank daagliks nuwe vaardighede aan (lank gelede as onderwyseres, in die korporatiewe sektor en ook nou, as skrywer).
“Get it down. Take chances. It may be bad, but it’s the only way you can do anything really good.” — William Faulkner
2. Daar is nie 'n geheime formule nie
Een van die belangrikste van die 5 dinge wat voornemende skrywers moet weet, is dat daar geen geheime formule is nie. Toe ek begin het, het ek gedink dat ek ‘n ‘plotter’ moet wees, m.a.w. die plot in die fynste besonderhede moet uitwerk, want dit is hoe my brein normaalweg werk.
‘Plotters’ beplan hulle stories baie deeglik, insluitend die karakters, plot, subplot, klimaks en ontknoping. John Grisham en J.K. Rowling is blykbaar ‘plotters.’
Ek beplan alles — selfs die roete (en die verkeer op daardie spesifieke tydstip) wat ek soggens skool toe moet ry om die seuns te gaan aflaai. Wanneer ek egter ‘n plot probeer beplan, is daar slegs ‘n vakuum.
‘Pantsers’ word as die vrydenkendes van die skryfwêreld beskou. Hulle laat die karakters toe om hulle self te vorm en laat die plot toe om vanself te ontvou. Die nadeel van ‘n ‘pantser’ wees is dat jy jouself kan vasskryf. Die voordeel is dat jou plot jóú ook verras. Beroemde ‘pantsers’ is Margaret Atwood en Stephen King.
Miskien is ek dan iets tussen ‘n ‘plotter’ en ‘n ‘pantser’? My plot ontvou soos die karakters dit stuur, maar ek doen baie navorsing wat betref karaktereienskappe en dit wat die karakters sielkundig onderlê. Ek beplan die karakters haarfyn nadat hulle vanself kom aanmeld het.
Vreemd?
Dit werk vir my en dis al wat tel.
Ek begin dikwels slegs met ‘n idee en navorsing en het geen idee waar die storie heen sal gaan nie. Die karakters meld aan. Wat vir een persoon werk, werk nie noodwendig vir ‘n ander een nie. Vind jou eie unieke skryfwyse en maak seker jy werk gedissiplineerd.
3. Skryf eers en redigeer later
Aanvanklik het ek geredigeer terwyl ek geskryf het en elke oggend die vorige dag se werk geredigeer. Die probleem was dat ek so besig was om te redigeer dat my storie geensins gevorder het nie.
‘Analysis paralysis.’
Nou kry ek net eers die storie op papier en dan redigeer ek. Ek moet bieg dat die proses van redigering vir my al lekkerder raak. Ek geniet die redigering amper meer as die skryf en die lekkerste van alles is om te weet dat ‘n mens daagliks nuwe vaardighede aanleer. Wanneer ek nou terugkyk na ‘n teks wat ek ‘n jaar gelede geskryf het, is ek verstom oor wat ek in die jaar geleer het.
Die belangrikste is dat jy doen wat vir jou werk, maar onthou dat dit oneindig belangrik is om te redigeer.
“To write is human, to edit is divine.” — Stephen King
4. 'Skryf' is 'n werkwoord
Skryf’ is nie verniet ‘n werkwoord nie. Dit neem baie tyd om ‘n manuskip te voltooi. Dan kom die herskryf en redigeer en weer herskryf en weer redigeer. En dan weer alles van vooraf.
My eerste jeugroman, Sweepslag, het 6 jaar geneem voordat dit uiteindelik gepubliseer is.
Sindikaat was ‘n proses van ongeveer 2 jaar.
Dit klink dalk na niks nie, maar plaas dit in konteks. Ek het in hierdie tyd 8 jaar ouer geword.
Mense vertel my gereeld watter goeie punte hulle vir skoolopstelle gekry het. Raai wat! My punte was ook goed. Beteken dit enigiets in my skryfloopbaan? Net mooi niks nie.
Dit maak nie saak watter genre jy skryf nie, iemand gaan vir jou wil vertel watter genre jy eintlik moet skryf of dat dit ‘n vermorsing van tyd is, want jy kon iets beter met jou tyd gedoen het (sendingwerk, mediese navorsing, boekhouer gewees het, ens.) en ander gaan vir jou vertel dat jy eerder in ‘n ander genre moes geskryf het.
Ek skryf jeugfiksie, want ek wil. Ek skryf in ‘n genre wat ek graag lees en dis heerlik. Meer as 55% van volwassenes lees blykbaar jeugfiksie en ‘n groot aantal van my lesers is volwassenes. Ek is oneindig dankbaar vir elke leser en het groot waardering vir elkeen se ondersteuning.
Aanhouer wen!
Die vrees vir mislukking agtervolg nie slegs debuutskrywers nie. Die eerste 3 000 woorde is elke keer vir my ‘n nagmerrie en daarna wonder ek of ek uiteindelik ooit by 10 000 gaan uitkom. Wat wou 50 000 of 60 000!
Aanhouer wen.
Byt vas. As ek my droom kon bereik, kan jy ook.