4 Skryfwenke vir jou (3)

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (3)

4 Skryfwenke vir jou (3)

Ek hoop dat die vorige agt skryfwenke gehelp het. Indien jy graag nog ‘n paar nuttiges wil hê, hier is dit:

4 Skryfwenke vir jou (3)

  1. Perspektief

Dink mooi na oor jou storie en die perspektief. Soms wil ‘n storie nie werk wanneer ‘n mens ‘n derdepersoonsverteller gebruik nie, maar werk uitstekend wanneer ‘n mens dieselfde storie via ‘n eerstepersoonsverteller vertel.

Onthou dat die alomteenwoordigeverteller as oudmodies beskou word en deesdae amper nooit gebruik word nie.

Die tweedepersoonsverteller vind ‘n mens amper net in literêre fiksie.

Indien jy van ‘n derdepersoonsverteller gebruik maak, onthou dat ‘n mens jou fokaliseerders moet beperk anders gaan jy die leser verwar. Daar is verskillende opninies rakende die hoeveelheid, maar 3 – 5 is beslis voldoende.

My gunsteling vertelperspektief?

Ek hou van beide eerste- en derdepersoon, maar toe ek ‘n tiener was, het ek ‘n boek toegemaak as dit in die eerstepersoon geskryf was. Intussen het ek die lig gesien en ek geniet stories vertel via beide die eerste- en derdepersoonsverteller, maar ek ken ‘n paar mense wat nie van ‘n eerstepersoonsverteller hou nie. Miskien weens my eie vooroordeel as tiener het ek al Sweepslag, Sindikaat en Spel vanuit ‘n derdepersoonsperspektief geskryf.

  1. Word skryffiks

Atlete het ‘n vaste roetine en oefen elke dag. Net so verloor jou brein ‘spierkrag’ indien jy nie elke dag skryf nie. Indien jy elke dag op dieselfde tyd kan skryf, wonderlik, maar indien nie, skryf net waar en wanneer jy kan.

Ek weet van skrywers wat op hulle selfone skryf wanneer hulle nie naby ‘n rekenaar is nie.

Self het ek al in my motor voor die skool in die passasiersitplek met my skootrekenaar op my skoot gesit en skryf.

  1. Vraelys

Maak seker dat jy ‘n lysie het sodat jy jouself ‘n paar vrae rakende jou storie kan vra.

Jy kan sekere van hierdie vrae ook in jou karakterbeplanning inbou om seker te maak dat jy nie plot- en ander gapings in jou storie het nie. Indien jy belangstel, gaan kyk op my webblad onder hulpbronne na my karakterkaart.

Alle besluite wat jou karakter neem, moet gemotiveerd wees.

Watter tipe vrae moet jy jouself afvra?

  • Wat wil my karakter hê en hoekom? Wat is sy/haar motief?
  • Is daar voldoende hekkies in my karakter se pad? “Raise the stakes!”
  • Wat is my karakter se grootste vrees en hoekom? Motief?
  • Dra die perspektief by tot die tipe storie wat ek vertel?

Gaan kyk gerus na my vorige plasing oor perspektief, maar onthou ook dat ‘n tiener se perspektief baie verskil van die van ‘n volwassene. Jy dink dalk nie so nie, maar dit is wel die geval. My protagoniste in Sweepslag, Sindikaat en Spel se perspektief word deur beide hulle omstandighede en ouderdomme beïnvloed.

  • Dra elke toneel in nou storie by tot óf karakterisering óf plot? Indien nie, kan jy dit skrap, want dan is dit bloot ink op papier.

Het jy al ‘n storie gelees en dele gevluglees of sommer net omgeblaai sonder om die teks te lees? Ek het dit al baie gedoen. Raak van daardie dele wat nie tot die plot of karakterisering bydra nie, ontslae.

Ja, jy het dalk ‘n unieke uitdrukking juis in daardie deel, maar soos Stephen King sê: “Kill your darlings.”

  • Wys jy of vertel jy? Wanneer jy vertel, is dit gemotiveerd?
  1. Skryf klaar en redigeer daarna

Tydens die skryf van my heel eerste manuskrip het ek elke keer nadat ek iets geskryf het, dit redigeer  — en toe agtergekom dat ek glad nie vorder nie. Die redigering het my só besig gehou dat ek my storie stilgestaan het en dit later gevoel het of ek in modder vasgeval het. Die wiele het gedraai, maar niks het gebeur nie.

Uiteindelik het ek besluit om die manuskrip klaar te skryf en dan te redigeer. Dit het vir my veel beter gewerk.

Terloops, daar is heelwat skrywers wat dit so doen, maar op die ou einde moet jy doen wat vir jou werk.

Almal in die skryfbedryf het destyds van die waarde van redigering gepraat, maar dit behels veel meer as slegs taalkundige korrektheid. Dis altyd goed om ‘n betaleser te kry om jou manuskrip te lees en kommentaar te lewer. Moenie iemand vra wat nie kritiese vrae sal stel nie. Op die Internet is hope betalesers te vinde. Die heel beste is natuurlik (veral betreffende jou eerste manuskrip!) om ‘n manuskripontwikkelaar te betaal vir kommentaar, maar indien dit nie vir jou ‘n opsie is nie, kry vir jou ‘n goeie en eerlike betaleser of meer.

4 Skryfwenke vir jou (3)

Lekker skryf!

 

Vir die onderhoud met DEKATv oor my skryfproses en storie-idees, kliek hier.

4 Skryfwenke vir jou (4)
4 Skryfwenke vir jou (6)
Annerle Barnard