Karakter: Wat beteken perspektief?

Skep ‘n geslaagde skurk.
4 Skryfwenke vir jou (2)
Karakter: Wat beteken perspektief?

Karakter: Wat beteken perspektief?

Volgens die slim mense is perspektief die lens waardeur jy jou storie vertel. Hierdie lens beïnvloed die leser se ervaring sowel as opinie van jou karakters.

Vertellers:

Jou keuse van ‘n hoofkarakter het waarskynlik die grootste invloed op perspektief. Oor vertellers en die tipe vertellers is daar baie te sê. Die mees algemene is die eerstepersoons- en derdepersoonsverteller. In hierdie blogplasing wil ek egter nie die tegniese aspekte rondom verteller bespreek nie.

Karakter: Wat beteken perspektief?

Die tipe perspektief waarna ek hier wil kyk, is die karakter se uitkyk op die lewe. ‘n Persoon wat in weelde grootgeword het, se uitkyk op die lewe gaan drasties verskil van iemand wat moes veg om oorlewing.

Tieners se perspektief verskil dramaties van die van volwassenes. Omdat ek jeugfiksie skryf en ook twee tieners in die huis het, beïnvloed dit hoe ek na dinge kyk. Toe ek begin skryf het, was my kinders albei in die laerskool en daarom het ek ‘n sielkundige (wat hoofsaaklik met jongvolwassenes werk) oor my karakters geraadpleeg. Selfs al is my kinders tans (2022) tieners, is dit iets wat ek steeds doen, want ‘n mens is nooit te oud om te leer nie.

Volgens kenners ontwikkel die prefrontale korteks in die brein eers gedurende adolessensie en die rasionele deel van die tienerbrein is daarom eers teen ongeveer ouderdom 25 voltooid. Dit beteken dat tieners dikwels nie goeie oordeelsvermoë het nie. Volwassenes beskik oor ‘n ontwikkelde prefrontale korteks en dink daarom aan die moontlike gevolge betreffende sekere keuses en handelinge, terwyl dit nie die geval by tieners is nie. Wetenskaplikes meen dat tieners inligting met die amigdala prosesseer en die amigdala is die emosionele deel van die brein. In die tienerbrein ontwikkel die konneksies tussen die rasionele en emosionele dele van die brein nog en daarom reageer tieners dikwels emosioneel eerder as rasioneel.

Karakter: Wat beteken perspektief?

Wanneer ‘n volwassene skryf vanuit die perspektief van ‘n tiener, is dit belangrik dat die keuses wat die karakter maak die van ‘n tiener sal weerspieël. Hoofstuk 48 van Sindikaat is gebaseer op ware gebeure. ‘n Vriendin met tieners in die huis het my van ‘n soortgelyke insident vertel en dit is waarom hierdie insident in fiktiewe vorm neerslag in die boek gevind het. Bossie (as volwassene) bring hier die volwasse perspektief, maar Bossie preek nie. Bo en behalwe die feit dat Bossie nie iemand is wat baie praat nie, sal die meeste mense met tieners weet dat dit nie help om vir ‘n tiener te preek nie. Bossie doen dinge op sy manier en dit het wel die gewenste uitwerking.

In Spel het Lukas Brandt by sy ouers grootgeword. Sy taalgebruik is daarom nie die van ‘n tipiese tiener nie, maar hy dink steeds emosioneel eerder as rasioneel. So wou hy te midde van gevaar in hoofstuk 33 vir JJ langs die pad afgelaai het. ‘n Volwassene sou onmiddellik aan die moontlike gevaar gedink het, maar Lukas gee in daardie stadium nie eintlik om nie.

Karakter: Wat beteken perspektief?

Wanneer jy jeugfiksie skryf, onthou dat jy nie vanuit ‘n volwasse perspektief kan skryf nie.

Wanneer ek vir my kinders sê dat hulle warm moet aantrek sodat hulle nie siek word nie, vra hulle of hulle warm moet aantrek omdat ék koud kry. Wanneer ‘n tiener dus in jeugfiksie daaraan dink om ‘n trui aan te trek “sodat hy nie siek word nie”, wonder ek onmiddellik oor die perspektief. 

“The teenage brain is like a Ferrari: it’s sleek, shiny, sexy, and fast, and it corners really well. But it also has really crappy brakes.” — Anoniem

Tieners se liggame is tot volwasse handelinge in staat, maar dit beteken nie dat alle tieners se breine noodwendig daarvoor gereed is nie. Aldus die kenners.

Lekker skryf.

Karakter: Wat beteken perspektief?
Hoe skep jy ‘n boekhoek?
Boeke vir tieners