4 Skryfwenke vir jou (1)

Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (1)
Annerle Barnard

4 Skryfwenke vir jou (1)

Dalk is jy soos ek, ‘n pantser, m.a.w. jy begin met ‘n eerste sin en wat die res aanbetref, “ you’re flying by the seat of your pants” (daarom ‘n pantser eerder as ‘n plotter). Ek het al deeglik probeer beplan en ‘n storielyn vir die plot probeer optrek, maar wanneer ek dit doen, is my kop ‘n volslae vakuum.

Wanneer die storie eers in wording is, trek ek dikwels ‘n tydlyn op net om my eie gedagtes te orden, maar vooraf is dit onmoontlik, want ekself weet nie wat gaan gebeur nie.

Elke skrywer moet vir hom-/haarself besluit wat werk en daarby hou. Ek beplan dalk nie die plot nie, maar ek beplan my karakters wel haarfyn.

4 Skryfwenke vir jou (1)

  1. Storielyn/plot

Indien dit vir jou moontlik is, trek vir jou ‘n storielyn op. Beplanning help ‘n mens baie wanneer jy skryf. Indien jou kop soos myne werk, sterkte. Jy kan steeds by die eindresultaat uitkom, selfs al voel dit nie altyd so nie.

  1. Hou jou storielyn in gedagte

Ek het al male sonder tal gesien hoe skrywers afdwaal en toelaat dat sekondêre storielyne hulle in ‘n doolhof laat verdwaal (uiteraard het ek ook al self die fout begaan). Hou jou primêre storielyn in gedagte. Indien ‘n toneel niks doen om óf die primêre storielyn te bevorder óf tot karakterisering by te dra nie, raak daarvan ontslae.

  1. Konflik!

Konflik stuur stories en daarom is dit nodig om so vroeg as moontlik reeds konflik in jou storie te skep. Wanneer jy na ‘n fliek kyk, maak seker jy hou die ontwikkelende konflik dop. Onthou, daar is baie verskillende tipes konflik. Slegs jy sal weet wat die beste vir jou karakter en storie sal werk. Een manier om dit te bewerkstellig, is om die aanhitsende voorval te gebruik om die protagonis in iets groots betrokke te laat raak. Andersins kan die karakter ook ‘n openbaring van die een of ander aard beleef.

In The Hunger Games (Suzanne Collins) onderneem Katniss Everdeen om in haar suster se plek aan die Spele deel te neem en dit is dan ook die begin van haar persoonlike en politieke konflik met die regering.

Sweepslag, 2019 (Annerle Barnard) begin met:

“Die vraag is: Sal hy hom kan doodmaak?” (bl. 7) Die leser is dus onmiddellik bewus van konflik en soos wat die storie ontvou, raak die leser bewus van die aard en rede vir die konflik.

Sindikaat, 2019 (Annerle Barnard) se eerste reëls lees as volg:

“Is jy gesuip, Bossie? No flippen way!” (bl. 7) Weereens is die leser onmiddellik bewus van konflik. In beide bostaande gevalle is die protagonis in konflik met ‘n ander persoon. Peroonlik hou ek daarvan om innerlike en uiterlike konflik te kombineer. Normaalweg lei die een in elk geval dikwels tot die ander.

Spel, 2021 (Annerle Barnard) se eerste reëls lees:

“Skiet!” Lukas weet dit gaan nie help nie, maar hoop vir ‘n wonderwerk. (bl. 9) In hierdie toneel is die protagonis in konflik met kunsmatige intelligensie/tegnologie (in Engels bekend as AI).

Wanneer ‘n mens die leser vroeg aan die konflik bekendstel, het jy die leser se aandag onmiddellik. Waarskynlik omdat my seuns nie van lees hou nie, probeer ek stories só skryf dat dit die leser sal haak en inkatrol sodat hy/sy na die volgende bladsy toe sal wíl blaai en sal wíl weet wat volgende gebeur.

  1. Tempo

Wanneer jy die storie met ‘n vinnige tempo begin, moet jy dit kan handhaaf. Glo my, dis moeiliker as wat ‘n mens dink!

Wanneer die tempo skielik daal, gaan jou leser verveeld raak. Maniere waarop jy die tempo kan versnel:

  • Verhoog die aksie en gebruik ook die dialoog om die aksie te versnel. Aksie en dialoog dryf stories op ‘n konkrete manier voort.
  • Skep afwagting. Dit maak nie saak of die leser ‘n vuurwarm toneel of ‘n byl in iemand se skedel verwag nie, die afwagting is wat saak maak. Soos Alfred Hitchcock gesê het: “There is no terror in the bang, only in the anticipation of it.” Wanneer daar afwagting is, sal die tempo outomaties versnel.
  • Skryf korter sinne en raak van lang beskrywings ontslae. Wanneer ek aan lang sinne en beskrywings dink, dink ek outomaties aan die Victoriaanse, asook agtiende eeuse literatuur wat ek as deel van my studies moes lees.

4 Skryfwenke vir jou (1)

Indien jy advies rakende spesifieke aspekte wil hê, laat weet my asb.

Lekker skryf.

Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (2)
Annerle Barnard