Skryfwenke: wys en vertel

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard
Skryfwenke: advies deur skrywers

Skryfwenke: wys en vertel

Die goue reël in skryfkuns is om te wys en nie te vertel nie, tensy ‘vertel’ meer sin sal maak in ‘n gegewe konteks. Balans is egter belangrik. ‘n Mens kan nie slegs wys nie.

Die beroemde skrywer, Anton Chekhov, het na oorlewering gesê: “Don’t tell me the moon is shining. Show me the glint of light on the broken glass.”

Vertel die vervelige en wys die opwindende!

Skryfwenke: wys en vertel

Wanneer vertel ‘n mens?

Wanneer jy ‘n groot hoeveelheid inligting aan die leser wil meedeel, byvoorbeeld, wanneer jou karakters drie dae lank oor ‘n berg trek en daar niks noemenswaardig gebeur nie.

Skryfwenke: vertel

Hoe lyk dit wanneer jy vertel?

Dit is wanneer die skrywer inligting aan die leser meedeel, byvoorbeeld: ek kry koud. Ek sê m.a.w. vir die leser dat dit koud is waar ek is. Die leser hoef geen afleidings te maak nie. Ek verskaf die inligting.

Skryfwenke: wys

Hoe lyk dit wanneer jy dieselfde inligting wys?

Ek verskaf inligting, maar los die leser om sy/haar eie afleidings te maak:

My skoene knars oor die witgerypte gras. Ek ril en trek my serp stywer om my nek vas.

Let wel: ek noem nêrens dat ek koud kry nie, maar deur my handelings kan die leser dit aflei. Op hierdie manier wys ek!

Waarom wys eerder as om te vertel?

  1. Wanneer jy wys, trek jy die leser dikwels in via ‘n handeling. Die leser is betrokke, want hy/sy neem aktief aan die gebeure deel.
  2. Dit help jou om karakters te ontwikkel sonder om bloot net hulle persoonlikheidseienskappe te lys. Wys, help jou m.a.w. met karakterisering.

Skryfwenke: wys en vertel

Praktiese wenke:

  1. Skep atmosfeer deur te wys en skep terseldertyd ook die milieu.
  2. Gebruik ook jou dialoog om te karakteriseer.
    • Via die dialoog kan jy ook verhoudings verduidelik. Maak egter seker dat daar ‘n doel vir die gesprek is en dat karakters nie net praat om die bladsy vol ink te kry nie.
  3. Gebruik liggaamstaal om te wys.
    • Hoe lyk iemand wat kwaad is, bang is, ens?
  4. Wanneer jy twyfel, beskryf eerder ‘n handeling/aksie as om vas te val in ellelange beskrywings en mooi-skrywery.
  5. Vermy bywoorde, byvoorbeeld: Ken lyk opgewonde. Vervang dit met iets soos: “Vat so!” roep Ken en dans oor die sokkerveld. (Ken se handeling wys dat hy opgewonde is. Jy het nie nodig om die leser met ‘n teelepel te voer nie.)

Kyk of jy kan identifiseer watter voorbeeld wys en watter een vertel. Watter beskrywing is die interessantste?

  1. Die huis is oud en afgeleef.
  2. Sarah gooi ‘n klip na die muis wat oor die voorstoep hardloop. In haar haas om van die vlermuis onder die stoep se dak te ontsnap, struikel sy oor die vergeelde koerante by die voordeur. Die verf dop in strepe van die mure af en die deur kreun toe sy dit oopstoot. Sy skakel haar flits aan en nies.

Skryfwenke: wys en vertel

‘n Praktiese voorbeeld uit Sindikaat (Annerle Barnard, 2019):

Paul ignoreer hom. “Waar’s die twee ouens van gisteraand?” Hy kyk na Bossie.

Bossie skud sy kop en vat ‘n sluk koffie.

“Hulle neem vlieglesse.” Johnny loop by die agterdeur uit met ‘n pakkie sigarette in die hand.

“What does he mean? Taking flying lessons?” wil Adriaan weet.

Selfs Karlien kom agter mens kan die lug skielik met ‘n mes sny. Sy sit haar vurk neer en kyk op.

Thandi sug en gaan sit op ‘n stoel. Drink stadig aan haar koffie.

“Don’t even ask.” Sy lyk moeg. (Sindikaat, bl. 102 en 103)

Indien ek bostaande moes vertel, sou ek gesê het: hulle het die twee ouens van gisteraand by ‘n vliegtuig uitgegooi en Thandi is kwaad en ontsteld.

Skryfwenke: wys en vertel

‘n Praktiese voorbeeld uit Spel (Annerle Barnard, 2021):

Dimpho vryf sy hande teenmekaar en trek sy mus oor sy ore toe hulle Lukas se huis binnegaan. Hy stamp sy voete op die vloer, maar kan steeds nie sy tone voel nie. (Spel, bl. 65)

Indien ek bostaande moes vertel, sou ek bloot net gesê het: Dimpho kry koud.

Skryfwenke: wys en vertel

Gebruik wys en vertel in jou storie om dit interessanter te maak. Laat weet asb. indien jy meer rakende ‘n spesifieke skryftegniek wil weet.

Lekker skryf!

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Skryfwenke: wys en vertel