Skryfwenke: wat beteken simboliek?

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers

Skryfwenke: wat beteken simboliek?

Simboliek behels die gebruik van konkrete objekte om abstrakte idees mee uit te beeld. Veral wanneer ‘n mens met ‘n groot abstrakte idee werk, soos die vernietigende effek van oorlog, gebruik ‘n mens ‘n konkrete objek om dit mee uit te beeld — byvoorbeeld ‘n verlate kinderskoen in die teerpad.

Waarom simboliek?

Simboliek word gebruik om dieperliggende konsepte mee te verduidelik. Die verlate kinderskoen in die teerpad is verteenwoordigend van ‘n groter abstrakte konsep, naamlik oorlog en die vernietiging wat dit meebring. Eintlik kom ‘n mens voortdurend simboliek in boeke en films teë, maar dit is nie noodwendig so maklik om dit te identifiseer of in ‘n mens se skryfwerk te implementeer nie.

Skryfwenke: wat beteken simboliek?

Simboliek is die uitdrukking van ‘n mens se idees via beeldspraak. Dink aan kleurvolle beeldspraak. Simboliek maak dikwels gebruik van helder kleure, items wat die oog vang, dramatiese gebeure, ens. Sterk beeldspraak beteken egter nie altyd dat dit as simbool gebruik word nie.

Voorbeelde van simboliek:

Ek hou van praktiese voorbeelde ter illustrasie. Hier volg enkele voorbeelde:

Water simboliseer lewe en hergeboorte.

Donker simboliseer die bose.

Lig simboliseer die goeie.         

‘n Kraai simboliseer dat iets boos gaan gebeur. 

‘n Uil simboliseer wysheid.

‘n Kruis simboliseer genesing en spiritualiteit.

Skryfwenke: wat beteken simboliek?

Waarom is simboliek in skryfwerk belangrik?

Simboliek kan belangrike temas uitlig. ‘n Simbool kan daarom nie sommer net enige idee verteenwoordig nie, maar moet by die storie se belangrikste motiewe en temas aansluit. ‘n Mens sal byvoorbeeld nie lig en donker (die goeie en die bose) in ‘n storie aanwend wat niks met die goeie en die bose uit te waai het nie.

Voorbeelde in boeke en films

In To Kill a Mockingbird simboliseer die ‘mockingbird’ onskuld en daarom sê Atticus vir Jem dat dit ‘n sonde is om ‘n ‘mockingbird’ dood te maak. Simboliek is dus ook ‘n manier waarop gewys word, eerder as om te vertel (showing vs. telling).

In die Divergent-reeks van Veronica Roth word Tris gebore in ‘n faksie wat gekenmerk word deur hulle selflose gedrag. Hulle dra vaal, vormlose klere, besit nie spieëls nie, ens. Wanneer sy dan ‘n nuwe faksie moet kies, kies sy Dauntless wat beskou word as ‘n faksie vir mense met moed en durf. Die mense wat tot Dauntless behoort, dra swart klere, het verskeie tatoeëermerke en hulle spring op bewegende treine en van hoë geboue af. Die kleredrag van die karakters simboliseer die kenmerkende eienskappe en ‘persoonlikheid’ van elke faksie.

In Macbeth vryf Lady Macbeth haar hande asof dit bloedbevlek is — ten spyte van die feit dat sy niemand met haar eie hande doodgemaak het nie. Die bloed word dus ‘n simbool vir skuldgevoelens.

Wanneer simboliek reg aangewend word, veroorsaak dit beide ‘n intellektuele en emosionele reaksie by die leser. Geslaagde simboliek maak dat die leser makliker met die storie kan identifiseer.

In Wuthering Heights simboliseer die vlaktes met hulle versteekte onheil ‘n grys area tussen die goeie en die bose, die area tussen lewe en dood. Dit simboliseer ook die wildheid van Heathcliff se geaardheid.

Wanneer ek aan die fliek The Sixth Sense dink, dink ek aan die koue en die kleur rooi. Die koue is simbolies van die dood. Rooi simboliseer die kleur van die geesteswêreld en elke keer wanneer Cole deur dooie mense gekonfronteer word, is die kleur rooi teenwoordig. Dit word dus as leitmotif (herhalende motif) dwarsdeur die film aangewend.

Mense kan ook as simbole aangewend word. In Lord of the Flies simboliseer Ralph se karakter wet en orde en demokrasie, Piggy simboliseer die rasionele en intellektuele en Jack verteenwoordig barbarisme en diktatorskap. Die skulp simboliseer orde, demokrasie, beskawing en outoriteit. Dit bring vrede. Die varkkop simboliseer die bose.

In Spel (Annerle Barnard, 2021) simboliseer heuning heilsaamheid en voeding. Ek het die bye as leitmotif aangewend om die diskrepans tussen die heilsame en die ongesonde (of bose) te illustreer, want van die hommeltuie wat gestuur word om op Lukas te gaan spioeneer, is elektroniese bye.

In Sindikaat (Annerle Barnard, 2019) gaan Paul saam met Bossie en twee vriende na Zambië om te gaan vlieghengel. Om ‘n vis te vang simboliseer rykdom en sukses, maar dit kan ook ‘n waarskuwing wees dat jy jou nie met die verkeerde mense moet ophou nie. Dit is juis as gevolg van verkeerde vriende dat Paul die Chinese sindikaat op sy hakke het.

Drome oor visvang is ‘n waarskuwing dat ‘n mens aandag aan jou emosies moet gee. Paul is ‘n depressielyer wat stoei teen angs.

Skryfwenke: wat beteken simboliek?

Laat weet asb. watter simbole in films en boeke vir jou opvallend was.

Lekker skryf.

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Skryfwenke: advies deur skrywers