Plotkinkels of plot twists

Annerle Barnard
Skryfwenke: advies deur skrywers
Annerle Barnard

Plotkinkels of plot twists

‘n Kinkel is ‘n verrassing wat die storie meer opwindend maak en dus ook die leser aan die raai hou.

Plotkinkels of plot twist: voorbeelde van kinkels

In the film The Sixth Sense  besef die leser heeltemal onverwags dat Dr. Malcolm Crowe (die sielkundige) dood is en dwarsdeur die film ‘n spook/gees is.

Die militêre wetenskapsfiksiejeugroman Ender’s Game het ‘n kinkel wat die leser soos ‘n skoot koue water in die gesig tref. Nader aan die einde besef die leser, sowel as die protagonis, Ender, dat die gesimuleerde oorlogspeletjies wat hy gespeel en gewen het, regte oorloë was en nie slegs ‘n speletjie nie. Hy het m.a.w. werklik oorlog teen ander lewende wesens gevoer en hulle uitgewis, soms selfs nadat hulle reeds die wit vlag gehys het. Na regte is hy ‘n oorlogsmisdadiger, maar hy was nooit daarvan bewus dat die speletjies wat hy op instruksie gespeel het werklike oorloë was nie.

Plotkinkels of plot twists

Daar is drie tipes kinkels wat ‘n mens in stories kan kry, naamlik ‘n onthulling, onvoorsiene gevolge en misleiding.

  1. In ‘n onthulling, verskaf die skrywer nuwe inligting wat die rigting van die plot vanaf daardie oomblik verander.
  2. Onvoorsiene gevolge beteken dat die karakter ‘n toneel betree en verwag dat die gebeure op een manier sal afspeel, maar dan speel dit op ‘n heel onverwagte manier af.
  3. Misleiding is ‘n manier om die leser te laat dink dat die karakters hulle konflik opelos het, maar dan gebeur iets wat die leser laat besef dat die aanname verkeerd is. Hierdie werk lekker vir krimi’s waar dit lyk asof die moordenaar gevang word en daarna verskyn die regte moordenaar.

Plotkinkels of plot twists hoe skryf ‘n mens ‘n plotkinkel?

  1. Beplan sedert die aanvang aan jou kinkel

Wanneer ‘n mens sedert die aanvang van die storie aan die plotkinkel begin beplan, sal dit die impak hê waarvoor ‘n mens hoop. In die film Fight Club word Tyler Durden aan die begin reeds bekendgestel en vind ‘n mens die eerste wenke sodat die latere onthulling nie uit die lug val en ongeloofwaardig oorkom nie.

Dikwels beplan die skrywer die kinkel en skryf die plot van agter af vorentoe wanneer hulle die storie beplan.

In Spel is daar ‘n mol, kom ‘n mens aan die begin reeds agter. Wie die mol is, word eers aan die einde bekendgemaak. Lesers bejeën gewoonlik die verkeerde karakter met wantroue.

  1. Steek die kinkelwenke weg

Plotkinkels moet as ‘n verrassing kom anders is dit saai en beïndruk dit niemand nie. Maak ‘n lys van wenke en steek dit in die storie weg sodat die kinkels uiteindelik sin sal maak.

Aksietonele is die perfekte plek om wenke te laat val, want die leser gaan uiteraard op die aksie konsentreer en nie op die res nie. Die besonderhede mag dalk onbelangrik lyk, maar die belang daarvan sal wel tydens die onthulling van die kinkel na vore kom. 

Jy kan ook misleiding gebruik om die leser in die verkeerde rigting te stuur, maar maak seker dat die bedrog nie voor die hand liggend is nie. Onthou, indien jy die leser te veel keer op ‘n doolhofbesoek stuur wat na nêrens lei nie, gaan hy/sy belangstelling verloor.

In Sweepslag lyk Jolly na iemand wat altyd na die lig soek, selfs wanneer die tonnel donker is. Alicia lyk na die een wat sleg vaar en sukkel om te midde van die omstandighede te oorleef. Op die ou einde gebeur daar iets wat Jolly verby breekpunt dryf. Dit kom as ‘n verrassing, juis omdat ‘n mens van Alicia verwag om gouer breekpunt te bereik.

  1. Vermy cliché’s

Kinkels wat gaargebruik is, is later glad nie meer interessant nie.

Die heel beste kinkels is die wat ‘n mens onthou lank nadat jy dit gelees het.

Voorbeelde van holruggeryde kinkels is:

  • Die antagonis was eintlik die protagonis se pa.
  • Niks het gebeur nie, want alles was net ‘n droom.
  • Slegs ‘n held kon almal uit die verknorsing red en heel toevallig is dit die protagonis.
  • ‘n Karakter het gemaak of hy dood is, net om later terug te keer.

Plotkinkels of plot twists: idees vir plotkinkels

  1. Die onverwagte misdadiger

Hierdie is iets waarvoor die skrywer Agatha Christie baie bekend is. Wenke word verskaf, maar die wenke was eintlik net “red herrings”, ontdek die leser later. Die leser ontdek aan die einde dat die skuldige nie die karakter is wat hulle dwarsdeur die boek/film met agterdog bejeën het nie.

  1. Onbekende vrees

In Girl on a Train van Paula Hawkins het die karakter ‘n vrees vir die onbekende waarmee lesers nie rekening gehou het nie.

  1. Dood wat skielik arriveer

Indien ‘n karakter skielik en sonder vooraf waarskuwing tot sterwe kom, kan dit die storie in ‘n totaal nuwe rigting stuur. My gedagtes dwaal dadelik na The Fault in our Stars. Die gebeure het my sokkies weggeblaas.

  1. ‘n Groot onthulling

Die film The Sixth Sense is seker een van die beste voorbeelde ooit. ‘n Terapeut werk met ‘n seun wat sê dat hy dooie mense kan sien. Terwyl hy die seun help om hierdie buitengewone gawe wat hy het te aanvaar, onthul die film die ware toestand van die terapeut.

  1. Onvoorsiene vriendskap

Toy Story is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

  1. Die goeie karakter is eintlik sleg

Die leser hou van die protagonis en ontdek dan uiteindelik dat hy einlik die antagonis is. Hierdie speel met die leser se denke, maar ‘n mens moet simpatie vir die eintlike protagonis skep sodat jy nie die leser verloor nie.

  1. ‘n Onvoorsiene gawe

Die Midas mite is ‘n goeie voorbeeld. Midas se magiese aanraking blyk aanvanklik fantasties te wees, maar aan die einde kos dit te veel. Hy verloor alles te wyte aan hierdie gawe wat dan eintlik die oorsprong van sy tragedie is.

  1. ‘n Natuurlike ramp

Natuurlike rampe is nie ‘n nuwe verskynsel nie. ‘n Vuur, vloed of sikloon kan vinnig die rigting van ‘n storie verander. Om dit as kinkel  te gebruik, moet ‘n mens seker maak dat dit onverwags plaasvind. Indien die leser ‘n natuurlike ramp verwag, gaan die kinkel nie werk nie.

  1. Die held maak dit erger

Hierdie kinkel knoop ‘n doodgewone storie sodat dit soos ‘n bom op jou afkom.  Eind goed, als goed, dink die leser en besef daarna eers die protagonis se handelinge het die probleem soveel erger gemaak. Ender’s Game is ‘n puik voorbeeld hiervan.

  1. Daar is ‘n groter antagonis

In Iron Man 3 ontdek Tony Stark dat die Chinese man teen wie hy geveg het slegs ‘n lokmiddel was wat sy oog van die eintlike teiken moes weghou. Hy moet dan teen die eintlike antagonis veg om te oorwin.

Plotkinkels of plot twists

Lekker skryf aan die kinkels in jou storie.

(Erkenning: verkeie bronne.)

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Annerle Barnard